Om die vrou se kennis te verbreed; om haar eie talente te ontdek en dit te ontwikkel; om aan haarself hoë eise en standarde te stel en net met die allerbeste tevrede te wees; om haar uitkyk op die lewe te verruim; om van haar ‘n beter vrou en moeder te maak; om haar mensekennis te verbreed; om te volhard tot sy wen, maar om ook ‘n tevrede verloorder te wees; om haar gevoel van eie waarde te bevestig en laaste, maar nie die minste nie, om haar sorge te vergeet en aangenaam en gesellig te ontspan met mede-lede.
Missie van die VLU Om deur middel van hoë kwaliteit programme, kennis en vaardighede tot voordeel van die totale gemeenskap oor te dra. Om lede as tuisteskeppers en meelewende landsburgers toe te rus.
Visie van die VLU Die VLU is ‘n opvoedkundige organisasie waarin vroue met dieselfde waardes geleentheid tot verruiming gebied word sodat hulle ‘n bydrae kan lewer en ‘n daadwerklike aandeel kan hê aan die ontwikkeling van ons land.
~ O ~
VLU GEBED
Vertaling: Dr FC O’B Geldenhuys)
Bewaar ons, O Here, van kleinlikheid: laat ons groot wees in gedagte, woord en daad… Laat ons foutvindery vermy en waak teen alle selfverheerliking… Mag ons alle skyn vermy en mekaar eerlik in die oë kyk, sonder selfbejammering en vooroordeel... Mag ons traag wees om te oordeel en altyd grootmoedig… Leer ons om ons beter neiginge eerlik en reesloos in beoefening te bring… Help ons om nie gejaagd te wees nie, om toe te neem in rustigheid, waardigheid en sagsinnigheid… Gee dat ons mag besef, dat dit die klein dingetjies is wat verdeel, dat ons in die groot dinge van die lewe een is… Mag ons strewe om die groot, algemeen menslike hart te raak en te ken, en O ons God, laat ons nooit nalaat om minsaam te wees nie…
~~~~~~~~~
VLU LIED Die vrou van wie hier vertel word ken u wel sy is glad nie vreemd In geloof volg ons nuwe paaie, VLU bring ons vroue saam.
Saam werk en saam bou leef en laat leef (4)
Ons poog om positief te bly te leef, te lag en lief te kry Bou aan kennis, vriendskap, talente Elk haar eie rigting uit te leef.
Saam werk en saam bou leef en laat leef (4)
Susan van Rooyen @ Helena Blignaut
Die Mary Stewart geleentheids gebed Ons Internasionale Gebed Mary Stewart is in 1879 gebore en is opgelei in Georgetown, Colorado en aan die Staatsuniversiteit, Boulder, waar sy 'n BA-graad verwerf het. In 1927 is die eregraad M Litt aan haar toegeken. Hierdie gebed het sy in 1904 geskryf, toe sy prinsipale van 'n hoërskool in Longmont, Colorado, was, net voordat sy as Superintendente van Indiëronderwys in die Staatsdepartement van Californië aangestel is. Hier het sy die gebed aan die Longmont Vrouevereniging, wat tweeweekliks vergader het, voorgelees.
Nadat sy in 1936 die driejaarlikse konferensie van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue in Washington bygewoon het, was by beïndruk deur die feit dat vroue, met sulke uiteenlopende belange, kon saamwerk, en moontlik 'n behoefte aan gebed en meditasie gevoel het. Tydens 'n vergadering van die WBvPV in London in 1937, lees sy toe self die gebed aan die lede voor.
Hierdie gebed het sy weg rondom die wêreld gevind in al die lande waar die BVvPV verteenwoordig is. In RSA word dit met elke tak-, streek- en hoofbestuursvergadering voorgelees. Dit is onlangs driestemmig getoonset - 'n pragtige werk! Mary Stewart is in 1943 oorlede, maar haar grootse woorde van gebed leef voort in die hart van meer as 8½ miljoen vroue dwarsoor die wêreld.