DIE VROUE LANDBOU UNIE (VLU)
Die VLU is ‘n organisasie wat haar beywer om aan die vrou geleenthede te bied om haarself te verryk op alle terreine van vrouwees sodat sy ‘n bydrae kan lewer tot haar gesin en die gemeenskap. Die organisasie is nie-polities, nie-sektaries, tweetalig, en oop vir alle vroue bo 16 jaar tot 116 jaar!
Agtergrondgeskiedenis: Die TVLU het op 8 September 1925 ontstaan. 55 Vroue het byeengekom in die raadsaal van die ou stadshuis in Pretoria o.l.v. mev Edith O’Connor, terwyl hul manne by ‘n Transvaalse Landbou Unie Konferensie was. Daar was behoefte by vroue om hulself op te hef en ‘n bydrae tot die gesin te lewer – die VLU was daardie jare die “universiteit van die vrou”. Ander provinsies volg Transvaal se voorbeeld en vorm saam (sedert 1931) die SAVLU. Na 1994, het ontbondeling van die TVLU plaasgevind en is daar in 1995 ‘n herindeling van VLU provinsies gedoen. Vandag bestaan SAVLU uit VLU Mpumalanga, VLU Noord, VLU Overvaal, Vrystaat VLU, Namibië (NVV),Noordwes VLU en Kwa Zulu Natal ((FWI) In Kaapland funksioneer die VLV. In 1933 affilieer SAVLU met die WBPV (Wêreldbond van Plattelandse vroue) http://www.acww.org.uk/ en word so deel van ‘n groot internasionale organisasie waarby meer as 300 vroue organisasies in meer as 70 lande betrokke is. Die WBPV hou elke derde jaar ‘n Konferensie en beywer hul vir die ontwikkeling van die vrou in veral die landelike gebiede. VLU is nie meer net op die boervrou gerig is nie. Alhoewel van die lede se manne nog boer, is die groter meerderheid van ons lede in dorpe en stede. Mense moet ‘n kopskuif maak omtrent die VLU – ons is nie net boervroue nie en is nie ou tannies met styfgekrulde hare en voorskote nie! Ons is dinamiese vroue wat onsself op alle lewensterreine van vrouwees wil bekwaam en verryk tot diens aan die gemeenskap. VLU bied aan elke vrou ‘n wonderlike geleentheid om haar uniekheid en talente uit te leef! VLU Mpumalanga is in ses streke verdeel: Malieveld (Laeveld omgewing), Suikerbos (Lydenburg omgewing), Carpe Diem (Witbank omgewing), Kosmos (Middelburg omgewing), Hoëveld (Secunda omgewing) Tambuki (Ermelo omgewing) VLU Mpumalanga webblad : vlumpumalanga.weebly.com |
Daar is baie vroue organisasies, maar wat ons uniek maak, is die handvaardighede wat ons aanleer. Ons streef daarna om dames te leer om oa naaldwerk te doen, te brei, te hekel,
kunsvaardighede te bemeester, blomme te rangsikking, te bak, produkte te bottel, fotografie te bemeester en die nuutste tegnologie baas te raak. Alhoewel ons aanpas by die tyd, werk ons tog daaraan dat sekere handvaardighede nie verlore moet gaan nie soos bv sekere borduursoorte. Elke tak hou maandeliks takvergaderings en elke streek hou jaarliks drie streekvergaderings en ‘n Konferensie (lg is waar al die takke in die streek bymekaarkom, ons spog-geleentheid waar erkenning gegee word aan harde werk in die jaar wat verby is) Die streke van‘n Provinsie kom jaarliks bymekaar vir ‘n Kongres en al die provinsies kom driejaarliks bymekaar vir die SA Kongres. Ons werk gestruktureerd en doelgerig en gebruik ons tyd oordeelkundig! Vroue ontdek en ontgin hul talente. Ons bied vele kursusse en werksklasse aan deur kundiges waar vroue hulself kan bekwaam. Ons konsentreer op opleiding van vroue en om vroue die geleentheid te bied om haar vrouwees uit te leef. Elke tak, streek en provinsie het projekte en tema’s vir die jaar. Alhoewel ons nie ‘n liefdadigheids organisasie is nie, is ons projekte van so‘n aard dat ons die gemeenskap dien. Ons leer ook meer oor bome van die jaar en kies jaarliks ‘n persoonlikheid, skrywer en produk waaroor ons meer inligting bekom. VLU is nie daar vir vroue wat alles kan doen nie, dis juis daar om vroue vaardighede te leer sodat sy weer ‘n bydrae tot die gemeenskap en haar gesin kan maak. Elke vrou is uniek en elke tak het ‘n eie karakter, maar saam het ons een visie, missie en doel en reik ons uit na mekaar en na ander. VLU Mpumalanga het ‘n nuusblad Die Communiquè wat vier keer per jaar verskyn, SAVLU het ‘n webblad http://www.savlu.org en lede van oor die hele land skakel lekker met mekaar op ‘facebook’. As dames lekker wil saamkuier rondom vroue dinge, is VLU die plek om te wees! |